Seun steek pa se aanvaller met steakmes in kop

Ruan Vorster
5 August 2010

Amanda Roestoff

’n Jong man van Roodepoort het eergisteraand een van sy pa se aanvallers stormgeloop en twee keer so hard met ’n steakmes in die kop gesteek dat die lem in sy kop afgebreek het.

Mnr. Ruan Vorster (19) sê sy pa, Phillip (49), ’n meganiese ingenieur en lid van die Roodekrans-buurtwag, het kort tevore die hek van hul huis in Palala-straat oopgemaak vir iemand wat hy ken en met wie hy ’n afspraak gehad het.

Terwyl Vorster sr. in die huis gewag het vir die man om op te daag, het hy omstreeks 20:00 gou uitgegaan om iets uit sy Mercedes-Benz in die oprit te gaan haal. Hy is deur drie gewapende mans in die gang aangeval net toe hy weer die huis binnegestap het, het Ruan gesê.

Ruan en sy broer, Hein (17), was elk in hul onderskeie kamers besig met telefoongesprekke toe hulle ’n lawaai in die gang gehoor het.

“Toe ek uit my kamer loer, sien ek hoe slaan die mans my pa met flitse en vuurwapens oor die kop. Dis toe dat ek die mes langs my skootrekenaar onthou.”

Hy het die mes gegryp en een van die rowers, wat toe die aanval op sy pa in die hoofslaapkamer voortgesit het, bestorm en van die kant af met die elmboog geslaan en teen die muur vasgedruk.

“Ek het met al my krag die mes twee keer bo in sy kop vasgedruk! Die handvatsel het toe afgebreek,” sê hy.

Die beseerde rower het bloeiend en steeds met die meslem in die kop op die grond neergeval terwyl die ander twee rowers en Vorster sr. steeds aan die stoei was.

Hein het na die telefoon gehardloop waar sy vriend, Joubert Schoeman (17), met wie hy voor die aanval gepraat het, steeds aangehou het. “O, foei … Help net!” het Hein geskree.

Ruan, wat in sy kamer na nog messe gaan soek het, het ’n skoot gehoor. Die koeël het Vorster sr. se maag geskraap voordat dit by sy regterbobeen aan die ander kant uit is.

Intussen het Joubert en sy pa, Dirk, hulle na die Vorster-huis gehaas nadat hulle die polisie laat ontbied het.

“Ek was vas oortuig my pa is dood toe ek daai skoot hoor!” sê Ruan.

“Die polisie was binne minute hier, maar die rowers het reeds al drie in ’n wit BMW gespring en weggejaag, waar nog ’n man op hulle in die wegkommotor gewag het,” sê hy.

Volgens Vorster sr. is Ruan sy held. “Hy het my en sy broer gered.”

lees berig