Nic Rossouw

Nic Rossouw (71)
26 July 2011

Johannesburg – ‘n Oupa van ses kleinkinders het ‘n skietgeveg teen drie rowers in sy agterplaas gewen nadat die trio probeer het om by sy huis in te breek.

“Ek het om die draai gekom en hulle het begin skiet. Ek was so kwaad. Ek dink ek sou hulle met ‘n gholfstok bestorm het,” het Nic Rossouw gesê.

Die trio het vroeg Maandagoggend probeer om by Rossouw se huis in Honeydew in te breek.

Die afgetrede sakeman het twee van hulle geskiet en die derde verdagte is in hegtenis geneem.

Rossouw het gesê die bure het hom gebel om te sê drie mans is op sy eiendom. Hy het toe sy vuurwapen gegryp en gaan ondersoek instel.

“Ek kan nie goed sien nie, maar my oë is goed genoeg om te sien wat ek wou sien.”

Die verdagtes het hom elf keer gemis, terwyl Rossouw drie koeëls gevuur en twee keer sy teiken raak geskiet het.

Rossouw het gesê hy het in woede reageer omdat hy en sy vrou vier keer in die laaste ses weke onder inbrekers deurgeloop het.